DIT IS GENOEG, WANT DIT IS VOLBRING

Dit was ʼn Sondagoggend, baie vroeg. Buite het die natuur begin ontwaak.  Die natuur het die HERE uitbundig geloof en geprys. Binne was ek besig om te bid. Nee, nie net bid nie – intense worsteling en wroeging, is `n beter  beskrywing van hierdie oggend se gebede.

My lewe het ʼn patroon begin aanneem van worstel en selfverwyt oor die verlede. Ek het myself bly verwyt oor my omstandighede, dit wat aan ander gedoen is en doelwitte en drome wat nie bereik is nie. Die sin van die lewe was verlore. Ek het begin glo dat ek vir al die negatiewe in my lewe verantwoordelik was. Die absolute oortuiging het ook begin wortel skiet dat God my aan myself en my plannetjies oorgegee het. Het Hy my verlaat soos in Psalm 22 en soos wat Jesus aan die kruis ervaar het? Jesus was egter sonder sonde, het ek gedink.  Dit het vir my gevoel asof my hele wese met sonde en foute deurvleg en vervleg was. Verwyte en aanklagte van die bose het ook soos branders oor my gebreek en my amper verswelg.

Hierdie oggend was nie anders nie. Ja, dit was nie anders nie totdat ek beleef het dat ek ʼn stem gehoor het wat uitroep: Johan, dit is nou genoeg, want dit is volbring!!   Ek het roerloos bly lê. Stomheid en stilte het gevolg. Ek weet nie hoe lank die stilte geduur het nie, maar die volgende oomblik het ek ʼn muur voor my gesien. Dit was ontsaglik hoog en breed. Ek het deeglik gekyk.  My natuurlike neiging sou wees om aan Jesaja 59:1-2 te dink en weer na sonde te soek wat ek kon bely. Maar nee, nie hierdie keer nie.  Wat kon die muur beteken?

Dit was nie die skeidsmuur van Jesaja 59:1-2 nie.  Dit was net anders. Ek het die muur weer deeglik bekyk. Die muur was soos  ʼn rots en ʼn beskutting. Ek het verder gekyk en tot my verbasing  was daar ʼn deur in die muur.  Wag, dit is nie al nie. Kyk na die deurkosyne. Daar het bloed afgeloop. Bloed in die vorm van ʼn kruis.  Die hele deur was verder met bloed verseël  – die bloed van die Lam van God.  Dit was soos die deurkosyne wat met die Hisoptakkie en die bloed van die Pasgalam gemerk was (Eksodus 12). Nadat dit met die bloed van die lam gemerk was, het die Engel van die dood verbygegaan en alle eersgeborenes van die Egiptenare het gesterf.  Israel was ongeskonde. Ek kan ook ongeskonde wees deur die bloed van die Lam van God, het ek gedink. Ek kan ook lewe!

Dit is toe dat ek die opdrag kry om my verlede eens en vir altyd anderkant hierdie muur te plaas. Ek moes die HERE toelaat om die deur toe te maak en met die bloed van Jesus Christus te verseël – Kyk! Kyk deeglik! Dit is volbring! Dit is verby!  Kyk en sien dat die deurkosyne met die bloed van die Lam – Jesus Christus gemerk is – Dit is volbring!! Niks uit my verlede mag verder as aanklag dien nie. Jy het dit reeds oor en oor bely, hoor ek myself praat. Een keer is mos voldoende (1 Joh. 1:9). Waarom doen jy dit oor en oor. Dit is volbring. Dit is verby. Ek is deur Christus geregverdig – asof ek nooit gesondig het nie. Ek moes dit sien, hoor én glo. Wanneer dit weer na jou toe kom, is dit `n aanklag van die bose en nie die oortuiging van die Heilige Gees nie, hoor jy, Johan?

Jy was ʼn dominee, hoor ek iemand anders sê. Hoe weet jy hierdie dinge dan nie? Dis ʼn goeie vraag. Jy sien, ek het, soos baie ander Christene,  verskriklik baie verstandskennis. Hierdie kennis moes egter eers tot in my hart afsak en openbaringskennis word deur die Heilige Gees. Vanuit hierdie ondervinding kan ʼn lewenswyse gevorm word met die Woord as fondament.

ʼn Besige lewe en ander blokkasies het hierdie proses feitlik laat stol.  Net God kon deur Sy Heilige Gees hierdie verandering in my bewerk. Dit kon gebeur toe ek begin het om, in gehoorsaamheid, Sy wil met hulle hele hart te soek. Die Woord wat soos saad gesaai was, het begin ontkiem en die Heilige Gees het die versorging gedoen.

Dit klink dalk na iets eenvoudig wat gebeur het, maar iets het in my hart en in my brein gebeur.  Net God kon dit deur die werking van Sy Heilige Gees doen.  Dit was asof Iemand `ʼn skakelaar in my lewe aangeskakel het – daar was lig!  ʼn Onbeskryflike bevryding,  vryheid, vrede en verligting het oor my begin spoel.

Wanneer dit sou gebeur dat ek oor persone of gebeure uit die verlede wil stoei, kom dit by my op: “Die saak is anderkant die muur, gaan net aan met jou lewe”! Dit is volbring. Watter groot bevryding is dit nie?  Dit is ʼn groot wonderwerk.

Waarom wil ons allerhande sake en gebeure uit die verlede, waarvoor daar reeds so ʼn ontsaglike losprys betaal is en wat ons bely het, terugneem? Vra jy my?

Dit was toe dat ek ook weer my pa se stem en woorde gehoor het. In my gedagtes was ek weer langs sy bed. Ek het weer sy dun, grys hare gesien.  Hy het stadig orent gekom, stip na my gekyk en het ernstig met my gepraat: Maak jou los van wat agter is. Dit sou egter eers maande later op ‘n Sondagoggend wees dat hierdie woorde uit Fil. 3:13 (AOV) in my hart begin waar word het: Ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Dit was ʼn Sondagoggend, ietwat later. Buite, het die natuur voortgegaan om die heerlikheid van die HERE, uitbundig,  te verkondig en te besing. Binne, het ek, spontaan en vry, deel geword van hierdie uitbundige lof en aanbidding.

Nadenke

  • Met watter bagasie van skuldgevoelens loop jy steeds?
  • Indien dit nog nie bely is nie, doen dit.
  • Hoor die woorde van Jesus wat uitroep: “Dit is volbring”.
  • Let go and let God