MY BESIGE LEWE. HET EK `N PROBLEEM?

Ek het oor my besige lewe gepeins want ek begin wegskram van mense en die gejaag van die lewe af. Ek het selfs begin om sekere byeenkomste te vermy. Is dit dalk simptome van iets?

Ja, ek is Johan Claassen, en ek het in 1999 uitbranding beleef. Ek het dus `n probleem. Dis nou waar jy moet sê: “Hallo Johan”.

Ek trap nog steeds in die strik van “te besig wees” en moet hard werk om nie my skedule te oorlaai nie. Ek probeer myself gereeld herinner dat ons nie “human doings” is nie, maar wel “human beings” is. Wat ek doen, moet my die definieer of my identiteit word nie, maar wel wie ek is. Ek weet dat dit wat ons “doen”, nie die eintlike punte tel nie.  “Hoekom” en “hoe” dit gedoen word, is die regte vrae om te vra. Hoekom doen ons wat ons doen en met watter motiewe en gesindheid? Hoe my optrede is terwyl ek my daaglikse werk doen en mense hanteer, is belangrik (Gal 5:22).

Dit herinner my aan Handelinge 17:28: want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Wanneer ek dit onthou, dink ek oor my en die HERE Jesus. Het ek nog ontmoetings met Hom en leef sy Gees in en deur my?  Is my lees en bid slegs roetine? Ek weet dat ek in slaggate gaan trap as ek nie meer die stem van die HERE hoor nie. Ek is ook diep in die moeilikheid as Hy nie sy regmatige plek en tyd in my lewe het nie.

Wat kan ek doen om weer my siel, gees en liggaam bymekaar te kry?

Ek het oor `n paar vrae geredeneer. Miskien is dit iets om diep oor na te dink.

  • Wat sê die HERE tans vir my uit die Woord?
  • Het ek nog werklike ontmoetings met die HERE of is alles net roetine?
  • Wat moet ek uit my skedule weglaat om rustiger te wees en meer tyd te hê dat die HERE en ek werklik `n ontmoeting kan hê?
  • Wat lees ek tans wat my geestelik voed en tot verdere geestelike groei stimuleer?

Vir ondersteuning. Kan jy ten aan ten minste drie name dink?

  • Wie het die HERE op my lewenspad gebring wat my kan ondersteun om geestelik te groei?
  • Wie het die HERE oor my pad gestuur wie ek moet begelei en vergesel?
  • Watter deure het die HERE vir my oopgemaak?

Nou moet ek tog iets met die antwoorde maak.

  • Watter doelwitte kan ek stel?
  • Wanneer gaan ek dit begin toepas?